Return   Facebook   Zip File

Arabic

1

O SEUN VAN DIE GEES!

My eerste raad is dit: besit 'n suiwer, goedige en stralende hart, dat uwe 'n heerskappy oud, onverganklik en ewigdurend mag wees.

2

O SEUN VAN DIE GEES!

Die mees geliefde van alle dinge in My oë is Geregtigheid; keer u nie daarvan af as u My begeer nie, en verwaarloos dit nie, sodat Ek u in My vertroue mag neem. Met behulp daarvan sal u met u eie oë sien en nie deur die oë van ander, en uit eie kennis weet en nie deur die kennis van u naaste nie. Oorweeg in u hart hoe dit u betaam om te wees. Voorwaar, geregtigheid is My gawe aan u en die teken van My goedertierenheid. Hou dit dan voor oë.

3

O SEUN VAN DIE MENS!

Verborge in My onheuglike bestaan en in die aloue ewigheid van My wese het Ek My liefde vir u geken; derhalwe het Ek u geskape, My beeld op u gegraveer en My skoonheid aan u geopenbaar.

4

O SEUN VAN DIE MENS!

Ek het u skepping lief gehad, daarom het Ek u geskape. Min My dus, dat Ek u naam mag noem en u siel mag vul met die gees van die lewe.

5

O SEUN VAN WESE!

Bemin My, dat Ek u mag bemin. As u My nie bemin nie, kan My liefde u op geen wyse bereik nie. Weet dit, o dienaar.

6

O SEUN VAN WESE!

U paradys is My liefde; u hemelse woning hereniging met My. Gaan daarbinne en versuim nie. Dit is wat vir u bestem is in Ons koninkryk omhoog en in Ons verhewe heerskappy.

7

O SEUN VAN DIE MENS!

As u My liefhet, draai weg van uself; en as u My welbehae soek, slaan geen ag op u eie nie; dat u in My mag sterwe, en Ek vir ewig in u mag lewe.

8

O SEUN VAN DIE GEES!

Daar is vir u geen vrede behalwe deur uself te verloën en na My te keer; omdat dit u betaam om uself in My naam te verheug en nie in u eie nie; om u vertroue in My te stel en nie in uself nie, aangesien Ek verlang om alleen en bo alles bemind te wees.

9

O SEUN VAN WESE!

My liefde is My vesting; hy wat daar binnegaan is veilig en beskut, en hy wat wegdraai sal sekerlik verdwaal en vergaan.

10

O SEUN VAN UITING!

U is My vesting; gaan daarbinne, sodat u in veiligheid mag vertoef. My liefde is in u, weet dit, sodat u My naby u mag vind.

11

O SEUN VAN WESE!

U is my lamp en My lig is in u. Verkry hiervan u straling en soek geen ander behalwe My nie. Want Ek het u ryk geskape en My genade oorvloedig oor u uitgestort.

12

O SEUN VAN WESE!

Met die hand van mag het Ek u geskape en met die vingers van krag het Ek u gevorm; en in u het Ek die kern van My lig geplaas. Wees tevrede daarmee en soek niks anders nie, want My werk is volmaak en My gebod bindend. Betwyfel dit nie, en wees nie onseker daaroor nie.

13

O SEUN VAN DIE GEES!

Ek het u ryk geskape, waarom verarm u uself? Edel het Ek u gemaak, waarmee verneder u uself? Uit die kern van kennis het Ek u in die lewe geroep, waarom soek u verligting by enigeen buiten My? Uit die klei van liefde het Ek u gevorm, hoekom hou u u dan besig met 'n ander? Ondersoek uself, dat u My binne u staande mag vind, magtig, kragtig, en selfbestaande.

14

O SEUN VAN DIE MENS!

U is my ryk en My ryk vergaan nie, waarom vrees u u verganklikheid? U is my lig en My lig sal nooit uitgedoof word nie, waarom vrees u vernietiging? U is My glorie en My glorie verbleek nie; U is My kleed en My kleed sal nooit verslyt nie. Volhard dan in u liefde vir My, dat u My in die koninkryk van heerlikheid mag vind.

15

O SEUN VAN UITING!

Draai u gesig na Myne en versaak alles buiten My; want My soewereiniteit duur en My heerskappy vergaan nie. As u 'n ander buiten My soek, ja, al deursoek u vir ewig die heelal, sal u soektog vergeefs wees.

16

O SEUN VAN LIG!

Vergeet alles buiten My en hou gemeenskap met My gees. Dit is die kern van My gebod, rig u dan daarna.

17

O SEUN VAN DIE MENS!

Wees met My vergenoeg, en soek geen ander helper. Want niemand anders as Ek kan ooit voldoende vir u wees nie.

18

O SEUN VAN DIE GEES!

Vra My nie vir wat Ons nie vir u wens nie, en wees tevrede met wat Ons om u ontwil beskik het, want dit is wat u baat, as u daarmee genoeë neem.

19

O SEUN VAN DIE WONDERBAARLIKE VISIOEN!

Ek het in u 'n ademtog van My eie Gees geblaas, sodat u My liefhebber mag wees. Waarom het u My verlaat en 'n ander geliefde buiten My gesoek?

20

O SEUN VAN DIE GEES!

My aanspraak op u is groot, dit kan nie vergeet word nie. My genade aan u is oorvloedig, dit kan nie versluier word nie. My liefde het in u sy tuiste gemaak, dit kan nie verberg word nie. My lig is openbaar aan u, dit kan nie verduister word nie.

21

O SEUN VAN DIE MENS!

Aan die boom van stralende heerlikheid het Ek vir U die keurigste vrugte laat hang, waarom het u u afgewend en tevrede gestel met minder? Keer dan terug na wat beter is vir u in die koninkryk in die hoogte.

22

O SEUN VAN DIE GEES!

Edel het Ek u geskape, tog het u uself verlaag. Verhef uself dan tot dit waarvoor u geskape is.

23

O SEUN VAN DIE OPPERSTE!

Na die ewige roep Ek u, tog soek u die verganklike. Wat het u van Ons begeerte laat wegdraai om u eie te soek?

24

O SEUN VAN DIE MENS!

Oorskry nie u perke nie, en maak nie aanspraak op wat u nie betaam nie. Buig neer voor die aangesig van u God, die Heer van krag en mag.

25

O SEUN VAN DIE GEES!

Spog nie teenoor die arme nie, want Ek lei hom op sy weg en aanskou u in u slegte toestand en stuur u immer meer in die war.

26

O SEUN VAN WESE!

Hoe kan u u eie foute vergeet en u met die foute van ander bemoei? Wie ook al só handel is deur My vervloek.

27

O SEUN VAN MENS!

Maak nie gewag van die sondes van ander solank u self 'n sondaar is nie. As u hierdie gebod oortree, sal u vervloek wees, en hiervan getuig Ek.

28

O SEUN VAN DIE GEES!

Weet waarlik: hy wat mense tot geregtigheid maan en self ongeregtigheid pleeg, behoort nie aan My nie, al dra hy My naam.

29

O SEUN VAN WESE!

Skryf aan geen siel toe wat u aan uself nie toegeskrewe wil hê nie, en sê nie wat u nie doen nie. Dit is My gebod aan u, leef dit na.

30

O SEUN VAN DIE MENS!

Ontsê nie My dienaar as hy iets van u vra nie, want sy gelaat is My gelaat; wees dus ootmoedig voor My.

31

O SEUN VAN WESE!

Gee uself elke dag rekenskap van u dade, aleer u tot verantwoording geroep word; want die dood, onaangekondig, sal tot u kom en u sal geroep word om u dade te verantwoord.

32

O SEUN VAN DIE OPPERSTE!

Ek het die dood 'n boodskapper van vreugde vir u gemaak. Waarom treur u? Ek het die lig gemaak om sy luister op u te werp. Waarom verberg u uself daarvoor?

33

O SEUN VAN DIE GEES!

Met die blye tyding van lig groet Ek u: wees verheug! Na die hof van heiligheid roep Ek u; laat dit u woning wees sodat u vir ewig in vrede mag lewe.

34

O SEUN VAN DIE GEES!

Die gees van heiligheid bring u die blye tyding van hereniging; waarom treur u? Die gees van mag bekragtig u in Sy saak; waarom versteek u uself? Die lig van Sy aangesig lei u; hoe kan u verdwaal?

35

O SEUN VAN DIE MENS!

Wees nie bedroef nie tensy u ver van Ons is. Wees nie veheug nie tensy u Ons nader en tot Ons terugkeer.

36

O SEUN VAN DIE MENS!

Verheug u in die blydskap van u hart, dat u waardig mag wees om My te ontmoet en My skoonheid te weerspieël.

37

O SEUN VAN DIE MENS!

Lê nie My skoon gewaad af nie, en verbeur nie u aandeel uit My wonderbaarlike fontein nie, sodat u nie vir ewig sal dors nie.

38

O SEUN VAN WESE!

Wandel na My wette uit liefde vir My en ontsê u wat u begeer, as u My welbehae nastreef.

39

O SEUN VAN DIE MENS!

Veronagsaam nie My gebooie as u My skoonheid liefhet nie, en vergeet nie My raadgewinge as u My welbehae wil verwerf nie.

40

O SEUN VAN DIE MENS!

Al sou u deur die onmeetlike ruimte snel en die uitspansel deurkruis, sou u tog geen rus vind behalwe in onderwerping aan Ons gebod en nederigheid voor Ons Aangesig nie.

41

O SEUN VAN DIE MENS!

Verheerlik My saak dat Ek die geheimenisse van My grootheid aan u mag openbaar, en u met die lig van ewigheid beskyn.

42

O SEUN VAN DIE MENS!

Verootmoedig u voor My, sodat Ek u genadiglik mag besoek. Staan op vir die triomf van My saak, dat u nog op aarde die oorwinning mag behaal.

43

O SEUN VAN DIE MENS!

Maak melding van My op My aarde, dat in My hemel Ek u mag onthou. Dus sal My oë en dié van u vertroos word.

44

O SEUN VAN DIE TROON!

U gehoor is My gehoor, hoor daarmee. U oë is My oë, sien daarmee, sodat u in die diepste van u siel van My verhewe heiligheid mag getuig en Ek in My self getuig van 'n verhewe staat vir u.

45

O SEUN VAN WESE!

Soek die marteldood op My weg, tevrede met My behae en dankbaar vir wat Ek beskik, sodat u met My mag rus onder die baldakyn van majesteit agter die tabernakel van glorie.

46

O SEUN VAN DIE MENS!

Oorweeg en bedink. Is dit u wens om op u bed te sterf, of om as martelaar in My weg u bloed in die stof te vergiet, en sodoende die onthuller van My gebod en die openbaarder van My lig in die hoogste paradys te word? Oordeel juis, o dienaar!

47

O SEUN VAN DIE MENS!

By My skoonheid! Om u hare te kleur met u bloed is grootser in My oë as die skepping van die heelal en die lig van beide wêrelde. Streef daarna, o dienaar!

48

O SEUN VAN DIE MENS!

Vir alles is daar 'n teken. Die teken van liefde is sterkte onder My gebod en geduld onder My beproewinge.

49

O SEUN VAN DIE MENS!

Die ware minnaar smag na beproewing, net soos die opstandige na vergifnis en sondaar na genade.

50

O SEUN VAN DIE MENS!

As teenspoed u nie op My pad oorkom nie, hoe kan u die weë bewandel van dié wat tevrede is met My welgevalle? As geen beproewinge u teister in u verlange om My te ontmoet nie, hoe sal u dan die lig bereik in u liefde vir My skoonheid?

51

O SEUN VAN DIE MENS!

My onheil is My voorsorg, uiterlik vuur en wraak, dog innerlik lig en genade. Haas u daarheen, sodat u 'n ewige lig en 'n onsterflike gees mag word. Dit is My gebod aan u, leef dit na.

52

O SEUN VAN DIE MENS!

Indien voorspoed u tref, verheug u nie en indien vernedering u oorkom, treur nie, want albei sal verbygaan en nie meer wees nie.

53

O SEUN VAN WESE!

As armoede u tref, wees nie bedroef nie; want die Heer van rykdom sal u mettertyd besoek. Vrees nie vernedering nie, want eendag sal glorie u deel wees.

54

O SEUN VAN WESE!

As u hart vas is op hierdie ewige, onverganklike heerskappy, en hierdie aloue, ewigdurende lewe, versaak dan hierdie sterflike en vlugtige soewereiniteit.

55

O SEUN VAN WESE!

Hou u nie besig met hierdie wêreld nie, want met vuur toets Ons die goud en met goud toets Ons Ons dienaars.

56

O SEUN VAN DIE MENS!

U verlang na goud en Ek verlang dat u daarvan vry sal wees. U waan u ryk in die besit daarvan en Ek sien u rykdom in u reiniging daarvan. By My lewe! Dit is My kennis, die ander u inbeelding; hoe kan My weg en dié van u ooreenstem?

57

O SEUN VAN DIE MENS!

Skenk My rykdom aan My armes, sodat u in die hemel mag put uit die voorrade van onverwelkbare prag en die skatte van onverganklike glorie. Dog by My lewe! heerliker nog is dit om u siel te offer, as u maar met My oog kon sien.

58

O SEUN VAN DIE MENS!

Die tempel van wese is My troon; reinig dit van alle dinge dat Ek daar gevestig mag word, en Ek daar mag bly.

59

O SEUN VAN DIE MENS!

U hart is My tuiste; heilig dit vir My neerdaling. U gees is My plek van openbaring; suiwer dit vir My verskyning.

60

O SEUN VAN DIE MENS!

Lê u hand in My binneste, sodat Ek stralend en luisterryk mag skyn oor u.

61

O SEUN VAN DIE MENS!

Styg op na My hemel, sodat u die vreugde van hereniging mag verwerf en die weergalose wyn mag drink uit die kelk van onverganklike glorie.

62

O SEUN VAN DIE MENS!

Menige dag het by u verbygegaan terwyl u u besig gehou het met u fantasieë en nuttelose inbeeldings. Hoe lank sal u nog op u bed sluimer? Hef u hoof op uit u sluimer, want die Son het na die toppunt gerys; dat dit u miskien mag bestraal met die lig van skoonheid.

63

O SEUN VAN DIE MENS!

Die lig het u beskyn van die kim van die heilige Berg en die gees van verligting het geblaas in die Sinai van u hart. Bevry u dus van die sluiers van ydele waan en gaan My hof binne, sodat u geskik mag wees vir die ewige lewe en waardig mag wees om My te ontmoet. Aldus mag die dood u nie tref nie, nóg vermoeidheid nóg sorg.

64

O SEUN VAN DIE MENS!

My ewigheid is My skepping, Ek het dit vir u geskape. Maak dit tot die kleed van u tempel. My eenheid is My handewerk; Ek het dit vir u voortgebring; beklee uself daarmee, dat u tot in alle ewigheid die openbaring van My ewigdurende wese mag wees.

65

O SEUN VAN DIE MENS!

My majesteit is My gawe aan u en My grootheid die teken van My genade aan u. Dit wat My betaam, sal niemand begryp of kan verhaal nie. Waarlik, Ek het dit bewaar in My verborge bergplekke en in die skatkamers van My gebod, as 'n teken van My goedertierenheid jeens My dienaars en van My genade jeens My volk.

66

O KINDERS VAN DIE GODDELIKE EN ONSIGBARE WESE!

Julle sal verhinder word om My lief te hê en siele sal verontrus word wanneer hulle melding van My maak. Want die verstand kan My nie begryp nie, nóg die hart My bevat.

67

O SEUN VAN SKOONHEID!

By My gees en by My guns! By My genade en by My skoonheid! Alles wat Ek aan u geopenbaar het met die tong van mag, en vir u neergeskryf het met die pen van krag, was in ooreenstemming met u bekwaamheid en begrip, nie met My staat en die melodie van My stem nie.

68

O KINDERS VAN DIE MENSE!

Weet julle nie waarom Ons julle almal uit dieselfde stof geskape het nie? Sodat geen mens hom bo 'n ander sou verhef nie. Oorweeg te alle tye in julle hart hoe julle geskape is. Daar Ons julle almal geskape het uit een en dieselfde stof, is dit julle plig om net soos een siel te wees, met dieselfde voete te loop, met dieselfde mond te eet, en in dieselfde land te woon, sodat uit julle innigste wese deur julle dade en handelinge, die tekens van eenheid en die kern van onthegting kenbaar mag word. Dit is My raad aan julle. O skare van lig! Gee ag op hierdie raad, sodat julle die vrugte van heiligheid mag pluk van die boom van wonderbaarlike glorie.

69

O JULLE SEUNS VAN DIE GEES!

Julle is My skatkamer, want in julle het Ek die pêrels van My geheimenisse en die juwele van My kennis bewaar. Beskerm dit teen die vreemdes onder My dienaars en teen die goddeloses onder My volk.

70

O SEUN VAN HOM WAT BY SY EIE WESE GESTAAN HET IN DIE KONINKRYK VAN HOMSELF!

Weet, dat Ek al die geure van heiligheid oor u geblaas het, My woord ten volle aan u geopenbaar het, My liefdadigheid deur u volmaak het, en vir u gewens het wat Ek vir Myself gewens het. Wees dus tevrede met My behae en wees My dankbaar.

71

O SEUN VAN DIE MENS!

Skryf alles wat Ons aan u geopenbaar het neer met die ink van lig op die tafel van u gees. As dit bo u mag is, maak dan u ink uit die diepste wese van u hart. En as u nie hietoe in staat is nie, skryf dan met die karmynrooi ink, wat op My pad vergiet is. Waarlik, dit is vir My soeter as al die ander, dat die lig daarvan ewig mag duur.

Persian

1

O U VOLKERE WAT VERSTAND BESIT OM TE WEET EN ORE OM TE HOOR!

Die eerste oproep van die Geliefde is dit: O mistieke nagtegaal! Vertoef nie behalwe in die roostuin van die gees nie. O bode van die Salomo van liefde! Soek geen skuiling behalwe in die Skeba van die geliefde nie, en o onsterflike feniks!

Bewoon alleenlik die berg van trou. Daar is u woonplek, indien, op die wieke van u siel u sou styg na die ryk van die oneindige en streef om u doel te bereik.

2

O SEUN VAN DIE GEES!

Die voël soek sy nes; die nagtegaal die bekoring van die roos; terwyl die voëls, die menseharte, vergenoegd met verganklike stof, ver afgedwaal het van hulle ewige nes, en met oë gerig op die moeras van onverskilligheid, beroof is van die heerlikheid van die goddelike teenwoordigheid. Helaas! hoe vreemd en jammer; vir ’n blote koppievol, het hulle weggedraai van die golwende seë van die Allerhoogste, en verwyderd gebly van die mees stralende horison.

3

O VRIEND!

In die tuin van u hart plant slegs die roos van liefde, en verslap nie u greep aan die nagtegaal van toegeneentheid en verlangste nie. Bewaar die geselskap van die regverdiges en vermy alle gemeenskap met die goddeloses.

4

O SEUN VAN GEREGTIGHEID!

Waarheen kan ’n minnaar gaan indien nie na die land van sy geliefde nie? En watter soeker vind rus weg van die verlange van sy hart? Vir die ware minnaar is hereniging lewe, en skeiding die dood. Sy bors is van geduld ontbloot en sy hart ken geen vrede nie. Ontelbare lewens sou hy versaak om hom te kan haas na die woning van sy beminde.

5

O SEUN VAN STOF!

Voorwaar sê Ek vir u: Die mees onagsame onder die mensdom is hy wat nutteloos twis en streef om homself bo sy broer te bevorder. Sê, o broeders! Laat dade, nie woorde nie, julle sieraad wees.

6

O SEUN VAN DIE AARDE!

Weet, voorwaar, dat die hart waarin die kleinste sweempie afguns nog draal, nimmer My ewige heerskappy sal bereik nie, nóg die soet geure van heiligheid inadem wat vanuit My koninkryk van reinheid waai.

7

O SEUN VAN LIEFDE!

U is maar ’n stap verwyder van die glorieryke hoogtes bo en van die hemelse boom van liefde. Gee een tree en vorder met die volgende tot in die onsterflike ryk en gaan die pawiljoen van ewigheid binne. Gee gehoor dan aan wat openbaar gemaak is deur die pen van heerlikheid.

8

O SEUN VAN HEERLIKHEID!

Wees vlug op die pad van heiligheid, en gaan die hemel van gemeenskap met My binne. Suiwer u hart met die politoer van die gees, en haas u na die hof van die Allerhoogste.

9

O VLUGTIGE SKADUWEE!

Vaar bokant die laer stadiums van twyfel en styg tot die verhewe hoogtes van sekerheid. Maak die oog van waarheid oop dat u die ongesluierde Skoonheid mag aanskou en uitroep: Geheilig sy die Here, die mees voortreflik van alle skeppers!

10

O SEUN VAN BEGEERTE!

Gee gehoor hieraan: Nimmer sal die sterflike oog die ewige skoonheid herken nie, nóg die lewelose hart behae skep in enigiets anders as die verwelkte blom. Want soort soek soort en vind genot in die geselskap van sy gelyke.

11

O SEUN VAN STOF!

Verblind u oë, dat u My skoonheid mag aanskou; stop u ore toe, dat u die soet melodie van My stem mag hoor; ledig uself van alle kennis, dat u mag deel hê in My kennis; en heilig uself van weelde, dat u ’n blywende aandeel mag verwerf van die oseaan van My ewige rykdom. Dit wil sê, verblind u oë vir alles behalwe My skoonheid; stop u ore toe vir alles behalwe My woord; ledig uself van alle kennis behalwe kennis aangaande My; sodat u met helder visie, ’n rein hart en ’n aandagtige oor die hof van My heiligheid mag binnegaan.

12

O MAN VAN TWEE VISIES!

Maak een oog toe en die ander oop. Sluit een vir die wêreld en alles wat daarin is, en maak die ander oop vir die geheiligde skoonheid van die Geliefde.

13

O MY KINDERS!

Ek vrees dat, beroof van die melodie van die duif van die hemel, julle terug sal sink tot die skimmeryk van volslae verlies, en, daar julle nooit die prag van die roos aangestaar het nie, terug sal keer tot water en klei.

14

O VRIENDE!

Versaak nie die ewige skoonheid vir ’n skoonheid wat moet sterf nie, en vestig nie julle toegeneentheid op hierdie verganklike wêreld van stof nie.

15

O SEUN VAN DIE GEES!

Die tyd sal kom wanneer die nagtegaal van heiligheid nie langer die binneste geheimenisse sal onthul nie en julle sal almal beroof wees van die hemelse melodie en van die stem van bo.

16

O WESE VAN VERWAARLOSING!

Miriade mistieke tonge vind uiting in een taal, en miriade verborge geheimenisse word geopenbaar in ’n enkele melodie; nogtans, helaas! is daar geen oor om te hoor, nóg hart om te begryp nie.

17

O KAMERADE!

Die hekke wat lei na die Pleklose staan wyd oop en die woning van die geliefde een is versier met die bloed van die geliefdes, nogtans, op enkele na, bly almal beroof van hierdie hemelse stad, en selfs van hierdie enkeles, is geen behalwe ’n handjievol gevind met ’n rein hart en geheiligde gees nie.

18

O JULLE BEWONERS VAN DIE HOOGSTE PARADYS!

Verkondig aan die kinders van sekerheid dat binne die ryke van heiligheid, naby die hemelse paradys, ’n nuwe tuin te voorskyn gekom het, waaromheen die bewoners van die ryk in die hoogte en die onsterflike inwoners van die verhewe paradys sirkel. Streef dan dat julle daardie stand mag bereik, dat julle die geheimenisse van liefde van sy windblomme kan ontrafel, en die geheim kan ontdek van goddelike en volmaakte wysheid van sy ewigdurende vrugte. Vertroos is die oë van die wat daar ingaan en inwoon!

19

O MY VRIENDE!

Het julle daardie ware en stralende oggend vergeet, toe julle almal in die geheiligde en salige omgewing vergader het in My teenwoordigheid onder die skadu van die boom van die lewe wat geplant is in die alglorieryke paradys? Vol angs het julle geluister toe Ek hierdie drie mees heilige woorde gespreek het: O Vriende!

Verkies nie julle eie wil bo Myne nie, begeer nimmer wat Ek nie vir julle begeer het nie, en nader My nie met lewelose harte, bevuil deur wêreldse begeertes en drange nie. Sou julle maar julle siele heilig, sou julle op hierdie uur daardie plek en daardie omgewing in herinnering bring, en sou die waarheid van My woorde vir julle almal duidelik wees. In die agste van die mees heilige reëls, in die vyfde Tafel van die Paradys, sê Hy:

20

O JULLE WAT OP DIE BED VAN ONVERSKILLIGHEID LÊ ASOF JULLE DOOD IS!

Eeue het verloop en julle kosbare lewens het haas tot ’n einde gekom, nogtans het van julle geen enkele asemtog van reinheid Ons heilige hof bereik nie. Alhoewel versonke in die oseaan van ongeloof, bely julle nogtans met die lippe die een ware geloof van God. Hom wat Ek verafsku het julle bemin, en van My vyand het julle ’n vriend gemaak. Nieteenstaande, bewandel julle My aarde voldaan en selfingenome, sonder om daarop te let dat My aarde sat is vir julle en dat alles wat daarop is, julle vermy. As julle maar julle oë sou oopmaak, sou julle in der waarheid tallose smarte verkies bo hierdie vreugde, en die dood beter ag as hierdie lewe.

21

O ROERENDE STOFGEDAANTE!

Ek verlang gemeenskap met u, maar u wil geen vertroue in My stel nie. Die swaard van u opstand het die boom van u hoop gevel. Te alle tye is Ek naby u, maar u bly altyd verwyderd van My. Onverganklike eer het Ek vir u gekies, tog het u grenslose skande vir uself verkies. Kom terug terwyl daar nog tyd is, en verbeur nie u kans nie.

22

O SEUN VAN BEGEERTE!

Die geleerdes en die wyses het lange jare gestrewe en gefaal om die teenwoordigheid van die Allerglorieryke te bereik; hulle het lewelank na Hom gesoek en tog nie die skoonheid van Sy aangesig aanskou nie. U het, sonder die minste inspanning, u doel bereik, en sonder om te soek, die voorwerp van u soektog be- kom. Nogtans, nieteenstaande, het u so gehul gebly in die sluier van self, dat u oë nie die skoonheid van die Geliefde aanskou het nie, nóg het u hand die soom van Sy kleed aangeraak. Julle wat oë het, sien en verwonder julle.

23

O BEWONERS VAN DIE STAD VAN LIEFDE!

Dodelike windvlaë het toegeslaan op die ewigdurende kers, en die skoonheid van die hemelse Jeugdige is versluier in die duisternis van stof. Die hoof van die vorste van liefde is veronreg deur die volk van tirannie en die duif van heiligheid lê vasgevang in die kloue van uile. Die bewoners van die pawiljoen van heerlikheid en die hemelse menigte beween en betreur, terwyl julle rus in die ryk van nalatigheid, en julleself beskou as van die ware vriende. Hoe ydel is julle verbeeldings!

24

O JULLE WAT DWAAS IS, DOG BEKEND STAAN AS WYSES!

Waarom dra julle die kleed van herders, wanneer julle innerlik wolwe geword het, besig met My kudde? Julle is soos die ster wat voor die dagbreek opkom, en wat, alhoewel dit stralend en liggewend skyn te wees, die reisigers van My stad op die dwaalspore van verdoemenis lei.

25

O JULLE WAT BILLIK SKYN TE WEES DOG INNERLIK SKELM!

Julle is soos helder dog bitter water, wat op die oog kristal suiwer is maar wanneer getoets deur die goddelike Keurmeester, nie ’n druppel aanvaar word nie. Ja, die sonstraal skyn gelyk op die stof en die spieël, nogtans verskil hulle in weerkaatsing, net soos die ster van die aarde: nee, onmeetbaar is die verskil!

26

O MY VRIEND IN WOORD!

Bepeins ’n tyd lank. Het u ooit gehoor dat vriend en vyand saam in een hart sou woon? Werp dan die vreemdeling uit, dat die Vriend Sy tuiste mag betrek.

27

O SEUN VAN STOF!

Alles wat in hemel en op aarde is, het Ek vir u beskik, behalwe die mensehart, wat Ek die woning van My skoonheid en glorie gemaak het; maar u het My tuiste en woning aan iemand anders as aan My gegee; en elke keer dat die manifestasie van My heiligheid Sy eie tuiste gesoek het, het Hy ’n vreemdeling daar gevind, en, haweloos, het Hy Hom gehaas na die skuilplek van die Geliefde. Ek het u geheim nogtans bewaar en verlang nie u skande nie.

28

O WESE VAN BEGEERTE!

By menige sonsopgang het Ek My gewend van die ryke van die Pleklose na u woonplek, en u op die bed van gemak gevind, besig met ander behalwe My. Vervolgens het Ek, soos die flits van die gees, teruggekeer na die ryke van hemelse heerlikheid en geen woord daaroor laat val in My rusoorde in die hoogte aan die skares van heiligheid nie.

29

O SEUN VAN MILDHEID!

Uit die woesteny van nietigheid, met die klei van My bevel het Ek u te voorskyn gebring en vir u opleiding elke atoom wat bestaan en die essensie van alle geskape dinge beskik. Dus, eerdat u voortgebring was uit u moederskoot, het Ek vir u twee bronne glansende melk bestem, oë om oor u wag te hou, en harte om u lief te hê. Uit My goedertierenheid, onder die skadu van My genade het Ek u versorg, en u beskerm deur die wese van My welwillendheid en guns. En My doel met dit alles was dat u My ewige heerskappy sal bereik en My onsigbare skenkings waardig sal word. En tog het u onverskillig gebly, en toe volgroeid, het u al My mildhede verontagsaam en u besig gehou met u ydele verbeeldinge, op so ’n wyse dat u geheel en al vergeetagtig geword het, en van die poorte van die Vriend weggedraai het, om intrek te neem binne die howe van My vyand.

30

O SLAAF VAN DIE WÊRELD!

Menige sonsopgang het die bries van My liefde oor u gewaai en u aan die slaap gevind op die bed van onverskilligheid. Met weeklag oor u jammerlike toestand het dit teruggekeer na waar dit vandaan gekom het.

31

O SEUN VAN DIE AARDE!

As u My sou begeer, soek geen ander behalwe My nie; en as u My skoonheid sou wil aanskou, sluit u oë vir die wêreld en alles wat daarin is; want My wil en die wil van ’n ander behalwe My, soos vuur en water, kan nie in een hart saamwoon nie.

32

O BEVRIENDE VREEMDELING!

Die kers van u hart is aangesteek deur die hand van My krag, blus dit nie met die teenwinde van self en hartstog nie. Die geneser van al u euwels is herinnering aan My, vergeet dit nie. Maak My liefde u skat en koester dit net soos u eie oë en lewe.

33

O MY BROER!

Luister na die genotvolle woorde van My heuningsoet tong, en drink diep van die stroom van mistieke heiligheid van My suikersoet lippe. Saai die saad van My goddelike wysheid in die suiwer aarde van u hart, en begiet dit met die water van sekerheid sodat die naeltjieblomme van My kennis en wysheid vars en groen mag opkom in die heilige stad van u hart.

34

O BEWONERS VAN MY PARADYS!

Met die hande van goedertierenheid het Ek die jong boompie van julle liefde en VRIENDSKAP in die heilige tuin van die paradys geplant, en dit begiet met die aansienlike reënbuie van My teergevoelige genade; streef dan noudat die uur van vrugvorming aangebreek het, om dit te beskerm sodat dit nie deur die vlam van begeerte en hartstog verteer word nie.

35

O MY VRIENDE!

Blus die lamp van dwaling, en steek aan in julle harte die ewigdurende fakkel van goddelike leiding. Want eerlank sal die keurmeesters van die mensdom, in die heilige teenwoordigheid van die Beminde, niks aanvaar nie behalwe die suiwerste deug en dade van smetlose heiligheid.

36

O SEUN VAN STOF!

Die wyses is die wat nie praat tensy hulle ’n gehoor vind nie, soos die skinker, wat nie sy beker aanbied voordat hy ’n soeker vind nie, en die minnaar wat nie uit die dieptes van sy hart uitroep totdat hy die skoonheid van sy geliefde aanskou nie. Saai dus die saad van wysheid en kennis in die suiwer aarde van die hart, en hou dit verborge, totdat die naeltjieblomme van goddelike wysheid uit die hart spruit en nie uit modder en klei nie. In die eerste reël van die Tafel is dit aangeteken en neergeskrywe, en in die heiligdom van die tabernakel van God is dit verborge:

37

O MY DIENAAR!

Verlaat nie ’n ewige heerskappy vir wat vergaan nie, en verwerp nie hemelse oppermag vir ’n wêreldse begeerte nie. Dit is die rivier van die ewige lewe wat gevloei het uit die bron van die pen van die genadige; goed gaan dit met hulle wat drink!

38

O SEUN VAN DIE GEES!

Breek u kou uitmekaar, en soos die feniks van liefde, sweef op na die firmament van heiligheid. Verloën uself en, vervul met die gees van genade, bly in die ryk van hemelse heiligheid.

39

O SPRUIT VAN STOF!

Wees nie tevrede met die gemak van ’n kortstondige dag nie, en beroof nie uself van ewigdurende rus nie. Ruil nie die tuin van ewige genot vir die ashoop van ’n sterflike wêreld nie. Styg op uit u gevangenis na die glorieryke weivelde omhoog, en vlug vanuit u stoflike kou na die paradys van die Pleklose.

40

O MY DIENAAR!

Bevry uself van die kettings van hierdie wêreld, en verlos u siel vanuit die gevangenis van self. Gryp u kans aan want dit sal nie weer na u kom nie.

41

O SEUN VAN MY DIENSMAAGD!

Het u die onsterflike oppermag aanskou, sou u streef om van hierdie kortstondige wêreld heen te gaan. Maar om die een vir u te verberg en die ander te openbaar is ’n misterie wat geeneen be- halwe die wat rein van hart is, sal verstaan nie.

42

O MY DIENAAR!

Suiwer u hart van kwaadwilligheid en gaan, bevry van jaloesie, die goddelike hof van heiligheid binne.

43

O MY VRIENDE!

Wandel in die weë van die welbehae van die Vriend, en hou in gedagte dat Sy behae in die behae van Sy skepsele is. Dit wil sê: geen mens behoort die huis van sy vriend binne te gaan nie behalwe met die goedvinde van sy vriend, nóg die hand lê op sy skatte, nóg sy wil bo die van sy vriend verkies, en geensins probeer om misbruik van hom te maak nie. Dink hieroor na, julle wat insig het!

44

O METGESEL VAN MY TROON!

Hoor geen kwaad nie, en sien geen kwaad nie, verneder nie uself nie, nóg sug en ween. Spreek geen kwaad, dat u dit nie teenoor uself hoor spreek nie, en vergroot nie die foute van ander dat u eie foute nie groot sou voorkom nie; en wens nie die vernedering van enigeen nie, dat u eie vernedering nie blootgelê word nie. Leef dan die dae van u lewe, wat korter as ’n vlugtige oomblik is, met u gemoed onberispelik, u hart onbesmet, u gedagtes rein, en u aard geheilig, sodat u vry en tevrede, hierdie sterflike vorm af mag lê en u begewe na die mistieke paradys om immermeer in die ewige koninkryk te bly.

45

HELAAS! HELAAS! O LIEFHEB BERS VAN WÊRELDSE BEGEERTE!

So snel soos weerlig het julle die Geliefde Een verbygegaan, en julle harte gesit op sataniese inbeeldinge. Julle buig die knie voor julle ydele verbeelding, en noem dit die waarheid. Julle rig julle oë op die doring, en noem dit ’n blom. Geen suiwer asem het julle uitgeblaas, nóg het die bries van onthegting gewaai vanuit die graslande van julle harte. Julle het die liefderyke raadgewings van die Geliefde in die wind geslaan en dit totaal uitgewis van die tafel van julle harte, en soos die diere van die veld, beweeg en bestaan julle in die weivelde van begeerte en hartstog.

46

O BROEDERS OP DIE PAD!

Waarom het julle versuim om melding te maak van die Geliefde Een, en op ’n afstand gebly van Sy heilige teenwoordigheid?

Die kern van skoonheid is binne die weergalose pawiljoen, geplaas op die troon van heerlikheid, terwyl julle julleself besig hou met nuttelose twiste. Die soet geure van heiligheid waai en die lug van mildheid trek, nogtans is julle almal pynlik geteister en ontroof daarvan. Wee julle en hulle wat julle pad bewandel en julle voetspore volg!

47

O KINDERS VAN BEGEERTE!

Lê die kleed van verwaandheid af, en ontdoen julle van die gewaad van hoogmoed. In die derde van die mees heilige reëls geskryf, en aangeteken in die Robyn Tafel deur die pen van die onsienlike is dit geopenbaar:

48

O BROEDERS!

Wees verdraagsaam teenoor mekaar en vestig nie julle liefde op aardse dinge nie. Roem nie op julle glorie nie, en skaam julle nie oor vernedering nie. By My skoonheid! Ek het alle dinge uit stof geskape, en tot stof sal Ek hulle weer terugbring.

49

O KINDERS VAN STOF!

Vertel die rykes van die middernagtelike sugtinge van die armes, sodat onverskilligheid hulle nie lei tot die pad van ondergang, en hulle die Boom van Rykdom ontneem nie. Om te gee en om gulhartig te wees is hoedanighede van My; goed gaan dit met hom wat homself met My deugde versier.

50

O KERN VAN HARTSTOG!

Verwerp alle begerigheid en soek tevredenheid; want die begeriges was immer berowe, en die tevredenes immer geliefd en geprese.

51

O SEUN VAN MY DIENARES!

Wees nie besorgd in armoede nie, nóg vol vertroue in rykdom nie want armoede word gevolg deur rykdom, en rykdom word gevolg deur armoede. Nogtans, om arm te wees in alles behalwe God is ’n wonderlike gawe, minag nie die waarde daarvan nie, want eindelik sal dit u ryk in God maak, en daarom moet u die betekenis verstaan van die vers, ‘In der waarheid is julle die armes,’ en die heilige woorde, ‘God is die allesbesittende,’ sal net soos die ware oggend glorieryk glansend breek op die horison van die hart van die minnaar, en veilig op die troon van rykdom bly.

52

O KINDERS VAN NALATIGHEID EN HARTSTOG!

Julle het My vyand My huis laat binnegaan en My vriend uitgewerp, want julle het die liefde van ’n ander as My in julle harte gekoester. Gee gehoor aan die woorde van die Vriend en wend julle tot Sy paradys. Wêreldse vriende, wat hulle eie voordeel soek, het mekaar oënskynlik lief, terwyl die ware Vriend julle lief gehad, en nog liefhet ter wille van julleself; inderdaad het Hy ter wille van julle leiding tallose teisterings verduur. Wees nie ontrou aan so ’n Vriend nie, nee, haas julle liewer na Hom. Sodanig is die dagster van die woord van waarheid en trou, wat opgekom het bo die horison van die pen van die Here van alle name. Ontsluit julle ore dat julle die woord van God, die Hulp in gevaar, die Self-Bestaande mag hoor.

53

O JULLE WAT JULLE BEROEM OP WÊRELDSE RYKDOM!

Weet in der waarheid dat rykdom ’n magtige hindernis is tussen die soeker en sy begeerte, die minnaar en sy geliefde. Die rykes, op enkele na, sal hoegenaamd nie die hof van Sy teenwoordigheid bereik nie nóg die stad van tevredenheid en berusting binnegaan nie. Goed gaan dit dan met hom wat, ofskoon ryk, nie deur sy rykdom verhinder word om die ewige koninkryk na te streef nie, nóg daardeur beroof word van onverganklike heerskappy nie. By die Allergrootste Naam!

Die glans van so ’n welgestelde man sal die bewoners van die hemel verlig, net soos die son die mense op aarde verlig.

54

O JULLE RYKES OP AARDE!

Die armes in julle midde is My toevertrouing; bewaar My toevertrouing en wees nie net besig met julle eie gemak nie.

55

O SEUN VAN HARTSTOG!

Reinig uself van die besoedeling van rykdom en in volkome vrede gaan voort na die ryk van armoede; dat van die bron van onthegting, u die wyn van onsterflike lewe mag drink.

56

O MY SEUN!

Die geselskap van die goddelose vermeerder verdriet, terwyl gemeenskap met die regverdiges die roes van die hart afskuur. Laat hy wat soek om gemeenskap met God te hou, hom wend tot die kameraadskap van Sy geliefdes; en laat hy wat verlang om te luister na die woord van God, gehoor gee aan die woorde van Sy uitverkorenes.

57

O SEUN VAN STOF!

Wees gewaarsku! Verkeer nie met die goddelose nie, en soek nie gemeenskap met hom nie, want sulke geselskap verander die glans van die hart in ’n helse vuur.

58

O SEUN VAN MY DIENARES!

As u die genade van die heilige gees sou soek, gaan die broederskap van die regverdige aan, daar hy van die beker van die ewige lewe gedrink het uit die hande van die onsterflike Skinker en soos die ware oggend die harte van die dooies verkwik en verlig.

59

O ONVERSKILLIGES!

Dink nie dat die geheime van die hart verborge is nie, nee, weet verseker dat dit in duidelike letters gegraveer is en onverhole sigbaar is in die heilige Teenwoordigheid.

60

O VRIENDE!

Voorwaar sê Ek, wat julle ook al in julle harte verberg het, is vir Ons so oop en duidelik soos die dag; maar dat dit verborge is, is uit Ons genade en guns en nie deur julle verdienste nie.

61

O SEUN VAN DIE MENS!

’n Doudruppel uit die bodemlose oseaan van My genade het Ek laat val op die volkere van die aarde, en nogtans niemand gevind wat hom daartoe gewend het nie, aangesien almal weggedraai het van die hemelse wyn van eenheid na die vuil droesem van onreinheid, en, tevrede met die verganklike beker, die kelk van onsterflike skoonheid versmaai het. Veragtelik is dit waarmee hy hom tevrede stel.

62

O SEUN VAN STOF!

Draai u oë nie weg van die onvergelyklike wyn van die onsterflike Geliefde nie, en open dit nie vir vuil en sterflike droesem nie. Neem die kelk van die ewige lewe van die hande van die goddelike Skinker, dat u alle wysheid mag bekom en dat u die mistieke stem mag hoor wat uitroep vanuit die ryk van die onsigbare. Roep luid, julle wat julle doel laag stel! Waarom het julle weggedraai van My heilige en onsterflike wyn tot verganklike water?

63

O JULLE VOLKERE VAN DIE WÊRELD!

Weet voorwaar dat ’n onvoorsiene ramp julle agtervolg en dat smartlike vergelding julle inwag. Dink nie dat die dade wat julle gepleeg het vir My oë uitgewis is nie. By My skoonheid! My pen het al julle doen en late in duidelike letters gegraveer op tafels van goudsteen.

64

O VERDRUKKERS VAN DIE AARDE!

Trek julle hande terug van tirannie, want Ek het My verbind om geen mens sy onregverdigheid te vergewe nie. Dit is My verbond wat Ek onherroeplik bepaal het in die bewaarde tafel en beseël het met My stempel van glorie.

65

O OPSTANDIGES!

My verdraagsaamheid het julle verstout en My lankmoedigheid het julle agteloos gemaak, op so ’n wyse dat julle die vurige strydros van hartstog aangespoor het op gevaarlike paaie wat tot vernietiging lei. Het julle gedink dat Ek onverskillig is of onbewus was?

66

O UITGEWEKENES!

Die tong het Ek ontwerp om melding van My te maak, besoedel dit nie met belastering nie. As die vuur van die self julle oorweldig, gedenk julle eie gebreke en nie die gebreke van My skepsele nie, want elkeen van julle ken sy eie self beter as wat hy ander ken.

67

O KINDERS VAN WAAN!

Weet waarlik, dat terwyl die stralende daeraad oor die horison van ewige heiligheid aanbreek, die sataniese geheime en dade wat in die donkerte van die nag begaan is, blootgelê en sigbaar sal word voor die volkere van die wêreld.

68

O ONKRUID WAT UIT DIE STOF SPRUIT!

Waarom het hierdie bevuilde hande van u nie eers u eie gewaad aangeraak nie, en waarom met u hart besoedel met begeerte en hartstog poog u om met My gemeenskap te hou en My heilige ryk binne te gaan? Ver, ver is julle van wat julle begeer.

69

O KINDERS VAN ADAM!

Heilige woorde en aansienlike dade styg op na die hemel van goddelike heerlikheid. Streef dat julle dade gesuiwer mag word van die stof van self en skynheiligheid, en genade mag vind in die hof van heerlikheid; want eerlank sal die keurmeesters van die mensdom, in die heilige teenwoordigheid van die Vereerde een, niks aanvaar behalwe absolute deug en dade van vleklose reinheid nie. Dit is die dagster van wysheid en van die goddelike misterie wat geskyn het bokant die horison van die goddelike wil. Salig is hulle wat hulle daarheen wend.

70

O SEUN VAN WÊRELDSHEID!

Aangenaam is die ryk van wese as u dit sou bereik; heerlik is die ryk van ewigheid, as u bo die wêreld van sterflikheid styg; soet is die heilige vervoering as u drink van die mistieke beker uit die hande van die hemelse Jeugdige. As u hierdie stand sou bereik sou u bevry wees van vernietiging en dood, van arbeid en sonde.

71

O MY VRIENDE!

Bring in herinnering daardie verbond wat julle met My aangegaan het op die Berg van Párán, geleë in die godgewyde omgewing van Zamán. Ek het die menigte in die hoogte en die bewoners van die stad van die ewigheid tot getuie geroep, nogtans vind Ek nou nie een wat getrou is aan die verbond nie. Verseker het trots en opstand dit van die harte uitgewis, op so ’n wyse dat geen sweem daarvan oorbly nie. En tog, bewus hiervan, het Ek gewag en dit nie rugbaar gemaak nie.

72

O MY DIENAAR!

U is soos ’n edel geharde swaard versteek in die duisternis van sy skede en sy waarde verborge vir die kennis van die vakman. Kom dus voort uit die skede van self en begeerte dat u waarde skitterend en sigbaar aan die ganse wêreld mag word.

73

O MY VRIEND!

U is die dagster van die hemele van My heiligheid, laat nie toe dat die besoedeling van die wêreld u glans verduister nie. Skeur uitmekaar die sluier van onverskilligheid, sodat u luisterryk mag uitkom van agter die wolke en alle dinge tooi met die gewaad van lewe.

74

O KINDERS VAN VERWAANDHEID!

Ten gunste van ’n vlugtige oppermag het julle My onverganklike heerskappy prysgegee en julleself getooi in die kleurige livrei van die wêreld en daarmee gespog. By My skoonheid! Almal sal Ek bymekaarbring onder die eenkleurige dekking van die stof en al hierdie diverse kleure uitwis behalwe hulle wat My eie kies, en dit is suiwering van elke kleur.

75

O KINDERS VAN VERWAARLOSING!

Sit nie julle hart op sterflike oppermag nie en verheug julle nie daarin nie. Julle is soos die onversigtige voël wat vol vertroue op die boomtak sing; totdat die voëlvanger die Dood dit eensklaps in die stof neerslaan, en die melodie, die vorm en die kleur daarmee heen is en geen spoor nalaat nie. Slaan dus ag, o slawe van begeerte!

76

O SEUN VAN MY DIENARES!

Leiding het immer deur middel van woorde geskied, en nou geskied dit deur dade. Elkeen moet rein en heilige dade verrig, want woorde is die eiendom van almal gelyk, terwyl dade soos die slegs aan Ons geliefdes behoort. Poog dan met hart en siel om julle deur julle dade te onderskei. Aldus raai Ons julle aan in hierdie heilige en luisterryke tafel.

77

O SEUN VAN GEREGTIGHEID!

In die nagtelike ure het die skoonheid van die onsterflike Wese sig begewe van die smarag hoogte van trou na die Sadratu’l-Muntahá, en geween met so ’n weeklaag dat die menigte in die hoogte en die bewoners van die ryke omhoog gehuil het omrede van Sy jammerklag. Waarop gevra is, Waarom die gehuil en geween? Hy het geantwoord: Soos beveel het Ek in afwagting vertoef op die heuwel van trou, maar tog nie die geur van trou ingeasem van hulle wat op die aarde woon nie. Toe ontbied om terug te keer het Ek aanskou, en kyk! sekere duiwe van heiligheid verkeer in angstige beproewing in die kloue van die honde van die aarde. Daarop het die Maagd van die hemel ongesluierd en skitterend Haar uit Haar mistieke woning gehaas, en hulle name gevra, en almal behalwe een is genoem. Toe, op aandrang, die eerste letter daarvan geuiter was, het die bewoners van die hemelse kamers daarop voortgesnel uit hulle woning van heerlikheid. En terwyl die tweede letter uitgespreek is, het almal sonder uitsondering in die stof neergeval. Op daardie oomblik is ’n stem gehoor vanuit die binneste heiligdom: ‘Tot sover en nie verder nie.’ Voorwaar getuig Ons van dit wat hulle gedoen het en nou doen.

78

O SEUN VAN MY DIENARES!

Drink in van die tong van die genadige die stroom van goddelike misterie, en aanskou van die daeraad van goddelike woorde die ongesluierde glans van die dagster van wysheid. Saai die saad van My goddelike wysheid in die suiwer grond van die hart, en begiet dit met die water van sekerheid, sodat die naeltjieblomme van kennis en wysheid vars en groen mag opkom uit die heilige stad van die hart.

79

O SEUN VAN BEGEERTE!

Hoe lank wil u sweef in die ryke van begeerte? Vlerke het Ek u geskenk dat u mag vlieg na die ryke van mistieke heiligheid en nie na die gebiede van sataniese verbelentheid nie. Ook het Ek u die kam gegee sodat u My raafswart haarlokke mag tooi, en nie My keel verskeur nie.

80

O MY DIENAARS!

Julle is die bome in My tuin; julle moet aansienlike en wonderbaarlike vrugte voortbring, ten bate van julleself en van ander. Dus is dit die plig van almal om betrokke te raak by kunsvlyt en beroepe, want daarin lê die geheim van rykdom, o mense van verstand! Want resultate hang af van middele, en die genade van God sal algenoegsaam vir julle wees. Bome wat nie vrugte dra nie was en sal altyd geskik wees vir die vuur.

81

O MY DIENAAR!

Die minderwaardigste onder die mens is hulle wat geen vrugte op aarde voortbring nie. Sulke mense word voorwaar as dood gereken, nee beter is die dooies in die oë van God as daardie ledige en niksnutsige siele.

82

O MY DIENAAR!

Die beste onder die mens is hulle wat hulle brood verdien deur middel van hulle beroep en aan hulleself en hulle gesinne bestee uit die liefde van God, die Here van al die wêrelde. Die mistieke en wonderbaarlike Bruid, voorheen versteek agter die sluier van die woord, is nou deur die genade van God en Sy goddelike guns, openbaar gemaak soos die glansende lig gewerp deur die skoonheid van die Geliefde. Ek getuig, o vriende! dat die guns volmaak, die pleidooi volbring, die bewys geopenbaar en die getuienis bevestig is. Maak nou bekend wat julle pogings op die pad van onthegting aan die dag sal lê. Op hierdie wyse is die goddelike guns ten volle aan julle toegestaan en aan hulle wat in die hemel en op die aarde is. Alle lof aan God, die Here van al die Wêrelde.

Bahá'u'lláh

Windows / Mac