Return to BahaiPrayers.net
Facebook
Hy is God, verhewe is Hy, die Here van vriendelike goedheid en mildheid!
Glorie sy aan U, U, o my God, die Here Alvermoënd. Ek getuig van U alvermoëndheid en van U mag, U oppermag en U vriendelike goedheid, U genade en U krag, die eenheid van U Bestaan en die eenheid van U Wese, U heiligheid en verhewenheid bo die wêreld van bestaan en alles wat daarin is.
O my God! U sien my afgesonder van alles behalwe U, hou vas aan U, en wend my na die oseaan van U mildheid, na die hemel van U guns, na die Môrester van U genade.
Here! Ek getuig dat U U Pand in U dienaar gelê het, en dit is die Gees waarmee U die lewe aan die wêreld gegee het.
Ek vra U by die prag van die Sfeer van U Openbaring, genadiglik van hom dit te ontvang wat hy in U dae volbring het. Gee dan dat hy met die glorie van U welbehae mag beklee word en met U aanname versier word.
O my Here! Ek self en alle geskape dinge getuig van U mag, en ek vra U om hierdie gees wat na U opgestyg het, na U hemelse plek, U verhewe Paradys en U skuilplekke van nabyheid, nie te verwerp nie, o U Wat die Here van alle mense is!
Vergun dan, o my God, dat U dienaar mag omgaan met U uitverkorenes, U heiliges en U Boodskappers in die hemelse plekke, wat die pen nie kan vertel nie nòg die tong kan meedeel.
O my Here, die arm een het voorwaar na die Koninkryk van U rykdom gehaas, die vreemdeling na sy tuiste binne U voorhowe, hy wat pynlik dorstig is, na die hemelse rivier van U mildheid. Beroof hom nie, o Here, van sy aandeel aan die onthaal van U genade en van die gunsbewys van U mildheid nie. U is in der waarheid die Almagtige, die Genadige, die Almilddadige!
O my God, U Pand is aan U teruggebring. Dit betaam U genade en U mildheid, wat U gebiede op die aarde en in die hemel omvat het, om aan U nuut-verwelkomde U gawes en U skenkings en die vrugte van die boom van U genade toe te staan! Sterk is U om te doen soos U wil, daar is geen ander God behalwe U nie, die Genadige, die Mees Milddadige, die Medelydende, die Skenker, die Vergewer, die Kosbare, die Alwetende.
Ek verklaar, o my Here, dat U aan die mense voorgeskryf het om hulle gas te eer, en hy wat na U opgevaar het, het voorwaar U bereik en U teenwoordigheid behaal. Handel met hom dan ooreenkomstig U genade en mildheid! By U glorie, ek weet stellig dat U Uself nie sal terughou van wat U U dienaars beveel het nie, nòg U hom ontsê wat aan die koord van U mildheid vasgehou het en na die Daeraad van U rykdom opgestyg het.
Daar is geen ander God behalwe U nie, die Een, dier Enige, die Magtige, die Alwetende, die Milddadige.
- Bahá'u'lláh