Return to BahaiPrayers.net
Facebook
O U vriendelike Here! U het die hele mensheid van dieselfde oorspronklike stam geskape. U het verorden dat almal aan dieselfde huishouding sal behoort. In U Heilige Teenwoordigheid is hulle almal U dienaars, en die hele mensdom word onder U Tabernakel beskut; almal het aan U Tafel van Mildheid bymekaar gekom; almal is verlig deur die lig van U Voorsiening.
O God! U is liefdevol aan almal, U het vir almal gesorg, beskerm almal, ken die lewe aan almal toe. U het elke en almal met talente en aanleg bedeel, en almal is ondergedompel in die Oseaan van U Barmhartigheid.
O U vriendelike Here! Verenig almal. Laat die godsdienste ooreenstem en maak die nasies een, sodat hulle mekaar as een familie en die hele aarde as een tuiste mag sien. Mag hulle almal in volmaakte ooreenstemming saamleef.
O God! Hef die vaandel van die eenheid van die mensdom op.
O God! Bring die Allergrootste Vrede tot stand. Bind U, o God, die harte aanmekaar.
O U vriendelike Vader, God! Verheug ons harte deur die geur van U liefde. Verhelder ons oë deur die Lig van U Leiding. Verbly ons ore met die melodie van U Woord, en beskerm ons almal in die Vesting van U Voorsienigheid.
U is die Magtige en Kragtige, U is die Vergewende en U is die Een Wat die tekortkominge van die hele mensheid oor die hoof sien.
- `Abdu'l-Bahá