Return to BahaiPrayers.net
Facebook
O U vergewende God! Hierdie dienaars wend hulle na U koninkryk, soekende na U genade en mildheid. O God! Maak hulle harte goed en suiwer sodat hulle U liefde waardig mag word. Reinig en heilig die geeste dat die lig van die Son van Werklikheid oor hulle mag skyn. Reinig en heilig die oë dat hulle U lig mag gewaar. Reinig en heilig die ore sodat hulle die roepstem van U koninkryk mag hoor.
O Here! Voorwaar, ons is swak, maar U is magtig. Voorwaar, ons is arm, maar U is ryk. Ons is die soekers, en U is die gesogte Een. O Here! Ontferm U oor ons en vergewe ons; verleen aan ons sodanige bekwaamheid en ontvanklikheid dat ons U gunste waardig mag wees en na U ryk mag aangetrokke word, dat ons van die lewenswater diep mag drink, met die vuur van U liefde aangesteek mag word, en in hierdie luisterryke eeu deur die asems van die Heilige Gees opgewek mag word.
O God, my God! Werp die blikke van U vriendelike goedheid op hierdie byeenkoms. Behou elkeen en almal veilig in U bewaring en onder U beskerming. Laat U hemelse seëninge op hierdie siele daal. Dompel hulle onder in die oseaan van U genade en verlewendig hulle deur die asems van die Heilige Gees.
O Here! Skenk U goedgunstige hulp en bevestiging aan hierdie regverdige regering. Hierdie land lê onder die beskuttende skaduwee van U beskerming en sy mense is in U diens. O Here! Verleen U hemelse mildheid aan hulle en maak die uitstortings van U genade en guns volop en oorvloedig. Laat hierdie hooggeagte nasie in eer gehou word, en stel dit in staat om in U koninkryk toegelaat te word.
U is die Magtige, die Alvermoënde, die Genadige, en U is die Vrygewige, die Liefdadige, die Here van oorvloeiende genade.
- `Abdu'l-Bahá