Return to BahaiPrayers.net
Facebook
Verheerlik sy U, o Here my God! Ek gee U dank dat U my in staat gestel het om die Openbaarwording van Uself te herken, en dat U my van U vyande afgesny het, en voor my oë hulle misdade en bose werke in U dae blootgelê het, en my van alle gehegtheid aan hulle onstlae gemaak het, en my geheel na U genade en milddadige gunsbewyse laat wend het. Ek betuig U ook dank, dat U uit die wolke van U wil, dit op my laat daal het wat my só geheilig het van die wenke van die ongelowiges en die sinspelings van die dwalers, dat ek my hart stewig aan U vasgeheg het, en van diegene wat die lig van U gelaat ontken het gevlug het. Weer eens dank ek U dat U my in staat gestel het om standvastig in U liefde te wees, en om U roem uit te spreek en U deugde te loof, en dat U my van die beker van U genade, wat alle sigbare en onsigbare dinge oortref, te drinke gegee het.
U is die Almagtige, die Mees Verhewe, die Alglorieryke, die Alles-Liefhebbende.
- Bahá'u'lláh