Return to BahaiPrayers.net
Facebook
Hy is die gebed-horende, gebed-verhorende God!
By U heerlikheid, o Beminde Een, U die gewer van lig aan die wêreld! Die vlamme van afsondering het my verteer en my eiesinnigheid het my hart binne my gesmelt. Ek vra U, by U Allergrootste Naam, o U die Begeerte van die wêreld en die Teer-Beminde van die mensdom, om te vergun dat die luggie van U besieling my siel mag steun, dat U wonderbaarlike stem my oor sal bereik, dat my oë U tekens en U lig mag sien soos bekend gemaak in die openbaringe van U name en U kenmerke, o U in Wie se greep alle dinge is!
U sien, o Here my God, die trane van U begunstigdes, vergiet omrede hulle afskeiding van U, en die angste van U toegewydes in hulle verheid van U Heilige Hof. By U krag, wat alle dinge beheers, sigbaar en onsigbaar! Dit betaam U bemindes om trane van bloed te giet vir dit wat die getroues aan die hande van die boses en die onderdrukkers op aarde wedervaar het. U sien, o my God, hoe die goddeloses U stede en U ryke omring het! Ek vra U by U Boodskappers en U verkorenes en by Hom waardeur Wie die standaard van U goddelike eenheid onder U dienaars ingeplant is, om hulle met U mildheid te beskerm. U is, voorwaar, die Goedgunstige, die Almilde.
En weer eens vra ek U by die soet buie van U genade en by die golwe van die oseaan van U guns, om vir U heiliges dit te beskik wat hulle oë sal vertroos en hulle harte sal opbeur. Here! U sien hom wat kniel, smagtende om op te staan en U te dien, die dooie wat roep vir die ewige lewe uit die oseaan van U guns en smeek om na die hemele van U rykdom te sweef, die vreemdeling wat verlang na sy huis van glorie onder die troonhemel van U genade, die soeker wat deur U genade na U deur van mildheid haas, die sondige wat keer na die oseaan van vergifnis en kwytskelding.
By U oppermag, o U Wat in die harte van die mense verheerlik is! Ek het na U toe gekeer, my eie wil en begeerte verlatende, sodat U heilige wil en welbehae in my mag regeer en my rigting mag gee in ooreenstemming met dit wat die pen van U ewige verordening vir my bestem het. Hierdie dienaar, o Here, alhoewel hulpeloos, keer na die Sfeer van U Mag, alhoewel verneder, maak haas na die Daeraad van Heerlikheid, alhoewel behoeftig, verlang na die Oseaan van U Genade. Ek smeek U by U guns en mildheid, werp hom nie weg nie.
U is voorwaar die Almagtige, die Vergewer, die Medelydende.
- Bahá'u'lláh