Return to BahaiPrayers.net
Facebook
Geprys en verheerlik word U, o my God! Ek smeek U by die sugtinge van U liefhebbers en by die trane deur diegene vergiet wat verlang om U te sien, om nie U tere genade van my in U Dag weg te hou nie, nòg my die melodieë te ontneem van die Duif wat U eenheid loof voor die lig wat van U aangesig skyn. Ek is die een wat in ellende is, o God! Aanskou my, ek hou vas aan U Naam, die Alles-Besittende. Ek is die een wat sekerlik sal vergaan; aanskou my ek kleef vas aan U Naam, die Onverganklike. Ek smeek U dus, by U Self, die Verhewene, die Allerhoogste, om my nie aan my self en aan die begeertes van 'n bedorwe neiging oor te gee nie. Hou U my hand met die hand van U krag, en verlos my uit die dieptes van my versinsels en ydele inbeeldings, en reinig my van alles wat vir U afstootlik is.
Laat my dan geheel en al na U keer, om my hele vertroue in U te plaas, om U as my Skuilplek te soek, en na U gelaat te vlug. U is, voorwaar, Hy Wat, deur die Sterkte van Sy mag, doen wat Hy ook al wens, en deur die vermoë van Sy wil, beveel wat Hy ook al verkies. Niemand kan die werking van U verordeninge weerstaan nie; niemand kan die koers van U bepaling afwend nie. U is, in der waarheid, die Almagtige, die Alglorieryke, die Mees Milddadige.
- Bahá'u'lláh