Return to BahaiPrayers.net
Facebook
MIDDELBARE VERPLIGTE GEBEDE
OM DAAGLIKS GESÊ TE WORD, IN DIE OGGEND,
OP DIE MIDDAGUUR, EN IN DIE AAND
Wie ook al wens om te bid, laat hom sy hande was, en terwyl hy was, laat hom sê:
Sterk my hand, o my God, sodat dit U boek met sulke standvastigheid mag vat dat die skares van die wêreld geen mag daaroor sal hê nie. Behoed dit, dan, van bemoeiing met wat ook al nie daaraan behoort nie. U is, voorwaar, die Almagtige, die Kragtigste.
En terwyl hy sy gesig was, laat hom sê:
Ek het my gesig na U toegedraai, o my Here! Verlig dit met die lig van U gelaat. Beskerm dit, dan, teen wending na iemand behalwe U.
Laat hom dan opstaan, en met sy gesig na die Qiblih (die Punt van Aanbidding, d.w.s. Bahjí, 'Akká) gerig, laat hom sê:
God getuig dat daar geen ander God behalwe Hom is nie. Aan Hom behoort die koninkryke van Openbaring en van skepping. Hy, in der waarheid, het Hom geopenbaar Wat die Daeraad van Openbaring is, Wat op Sinaï gepraat het, deur Wie die Hoogste Horison tot skyning gebring is, en die Lotusboom, oorkant waarvan daar geen verbygaan is nie, gepraat het, en deur Wie die geroep aan almal wat in die hemel en op aarde is verkonding is: 'Kyk, die Alles-Besittende het gekom. Aarde en hemel, heerlikheid en heerskappy is God s'n, die Here van alle mense en die Besitter van die Troon in die hoogte en benede op aarde!'
Laat hom dan neerbuig, met hande op die knieë rustende, en sê:
Verhewe is U bo my lof en die lof van iedereen buiten my, bo my beskrywing en die beskrywing van almal wat in die hemel is en almal wat op die aarde is!
Laat hom dan staan met oop hande, palms bo na die gesig, en sê:
Stel hom nie teleur nie, o my God, wat met smekende vingers aan die soom van U genade en U guns vasgehou het, o U Wat van diegene wat genade bewys die Allergenadigste is!
Laat hom dan gaan sit en sê:
Ek getuig van U eenheid en U enkelvoudigheid, en dat U God is, en dat daar geen ander God behalwe U is nie. U het, voorwaar, U Saak onthul, U Verbond vervul, en die deur van U guns aan almal wat in die hemel en op aarde woon wyd oopgemaak. Seën en vrede, begroeting en heerlikheid rus op U bemindes, wat die lotswisselinge van die wêreld nie teruggehou het om na U te keer nie, en wat hulle alles gegee het, in die verwagting om dit te bekom wat by U is. U is in der waarheid, die Altyd-Vergewende, die Almilddadige.
Sou iemand verkies om pleks van die lang vers hierdie woorde te sê:
God getuig dat daar geen ander God behalwe Hom is nie, die Hukp in Gevaar, die Selfbestaande, sou dit toereikend wees. En op dieselfde manier, sou dit voldoende wees sou hy, terwyl hy sit, verkies om hierdie woorde te sê:
Ek getuig van U eenheid en U enkelvoudigheid, en dat U God is, en dat daar geen ander God behalwe U is nie.
- Bahá'u'lláh