Return to BahaiPrayers.net
Facebook
Roem sy aan U, o Here my God! Dit is die dae waarop U alle mense gebied het om die vas te onderhou, dat hulle daardeur hulle siele mag reinig en hulself van alle gehegtheid aan iemand behalwe U mag vrystel, en dat dít uit hulle harte mag opstyg wat die hof van U majesteit waardig sal wees, en die setel van die openbaring van U eenheid goed mag pas. Vergun, o my Here, dat hierdie vas 'n rivier van lewegewende waters mag word, en die deug mag oplewer waarmee U dit bedeel het. Reinig U deur sy middel die harte van U dienaars wat die euwels van die wêreld gefaal het om te verhinder om hulle na U alglorieryke Naam te wend, en wat onbewoë gebly het deur die geraas en rumoer van diegene wat U mees luisterryke tekens ontken het, wat die koms van U Openbaarwording vergesel het, Wat U met U oppermag, U krag, U majesteit en heerlikheid beklee het. Hierdie is die dienaars wat, sodra U roepstem hulle bereik het, in die rigting van U genade gehaas het en nie van U teruggehou is deur die lotswisselinge van hierdie wêreld of deur enige menslike beperkings nie.
Ek is hy, o my God, wat van U eenheid getuig, wat U enkelvoudigheid erken, wat nederig voor die openbaringe van U majesteit buig, en wat met neergeslane gesig die luister van die lig van U oortreffende heerlikheid herken. Ek het in U geglo nadat U my in staat gestel het om U Self te ken, Wat U aan die mense se oë deur die krag van U oppermag en vermoë geopenbaar het. Na Hom toe het ek my gewend, volkome losgemaak van alle dinge, en onwankelbaar aan die koord van U gawes en gunste vashoudende. Ek het Sy waarheid en die waarheid van al die wonderbaarlike wette en voorskrifte wat op Hom laat daal is, omhels. Ek het weens liefde vir U n ingewolge U opdrag gevas, en het my vas met U lof op my tong en ooreenkomstig U behae gebreek. Laat my nie, o my Here, getel word onder diegene wat oordag gevas het nie, wat hulle in die nag voor U aangesig neergebuig het, en wat U waarheid nie erken het nie, nie in U tekens geglo het nie, U getuienis weerspreek het, en U woorde verdraai het.
Maak U, o my Here, my oë oop en die oë van almal oop wat gesoek het, sodat ons U met U eie oë mag herken. Dit is U gebod wat ons gegee is in die Boek wat deur U laat daal is op Hom Wat U deur U opdrag gekies het, Wat U vir U gunsbewys bo al U skepsels uitgekies het, Wat dit U behaag het om met U oppermag te beklee, en Wat U besonderlik met U Boodskap aan U mense begunstig en toevertrou het. Geloof sy U dus, o my Here, aangesien U ons genadiglik in staat gestel het om Hom te herken en te erken wat ook al op Hom laat daal is, en aan ons die eer bewys het om die teenwoordigheid te bereik van dié Een Wat U belowe het in U Boek en in U Tafels.
U sien my dan, o my God, met my gesig na U toe gekeer, omklem standvastig die koord van U genadige voorsienigheid en vrygewigheid, en kleef aan die soom van U tere seëninge en milddadige gunste vas. Ek smeek U, vernietig nie my verwagtinge nie om dit te bereik wat U vir U dienaars beskik het wat na die omgewing van U hof en die heiligdom van U teenwoordigheid gedraai het, en die vas uit liefde vir U onderhou het. Ek erken, o my God, dat wat ook al van my af uitgaan U oppermag heeltemal onwaardig is, en U majesteit nie behaal nie. En tog smeek ek U by U naam, waardeur U Uself geopenbaar het, in die heerlikheid van U mees voortreflike titels, aan alle geskape dinge, in hierdie Openbaring waardeur U, deur U mees luisterryke Naam, U prag aan die dag gelê jet, om my te drinke te gee van die wyn van U genade en van die suiwer drank van U begunstiging wat vanuit die regterhand van U wil uitgestroom het, dat ek my blik só op U mag rig en só van alles behalwe U losgemaak mag wees, dat die wêreld en alles wat daarin geskape is voor my soos 'n snel verbygaande dag mag voorkom wat U U nie verwaardig het om te skep nie.
Origens, smeek ek U, o my God, om vanuit die hemel van U wil en die wolke van U genade, dit te laat reën wat ons van die hinderlike geur van ons oortredings sal reinig, o U Wat Uself die God van Genade genoem het! U is, voorwaar, die Allerkragtigste, die Alglorieryke, die Heilsame.
Verwerp hom nie, o my Here, wat na U gekeer het nie, en laat hom wat nader aan U kom nie ver van U hof verwyder wees nie. Verydel nie die verwagtinge van die smekeling wat sy hande verlangend uitgestrek het om U genade en gunste te soek nie, en ontneem nie U opregte dienaars die wonders van U tere barmhartigheid en vriendelike goedheid nie. Vergewend en Mees Milddadig is U, o my Here! U het die vermoë om te doen wat U behaag. Almal behalwe U is magteloos voor die openbaringe van U mag, is soos verlore teenoor die bewyse van U rykdom, is soos niks wanneer vergelyk met die openbaringe van U oortreffende soewereiniteit, en is ontbloot van alle sterkte wanneer van aangesig tot aangesig met die tekens en blyke van U krag. Watter skuilplek is daar buiten U, o my Here, waarna ek kan vlug, en waar is daar 'n toevlug waarheen ek kan haas? Nee, die sterkte van U mag is my getuie! Geen beskermer is daar behalwe U nie; geen plek om na te vlug buiten U nie; geen skuilplek te soek behalwe U nie. Laat my, o my Here, die goddelike soetheid van U aandenking en lof proe. Ek sweer by U mag! Wie ook al van sy soetheid proe sal hom onstlae maak van alle gehegtheid aan die wêreld en alles wat daarin is, en sal sy gesig na U toe rig, gereinig van aandenking aan almal behalwe U.
Vuur dan my siel aan, o my God, met U wonderbaarlike aandenking, dat ek U naam mag verheerlik. Tel my nie onder diegene wat U woorde lees en faal om U verborge gawe te vind nie, wat, soos deur U verorden, daarin vervat is, en wat die siele van U skepsels en die harte van U dienaars verlewendig. Laat my, o my Here, onder diegene gereken word wat tot só 'n mate deur die soet geurigheid aangegryp is wat in U dae gesweef het, dat hulle hulle lewens vir U neergelê het en na die toneel van hulle dood gehaas het in hulle verlange om op U prag te tuur en in hulle hunkering om U teenwoordigheid te bereik. En sou iemand vir hulle op hulle pad sê, ,Waarheen gaan julle?' sou hulle sê, ,Na God, die Alles-Besittende, die Hulp in Gevaar, die Selfbestaande!'
Die oortredings deur diegene begaan wat hulle van U afgewend het en hulle met hoogmoed teenoor U gedra het, het nie gebaat om hulle te hinder om U lief te hê nie, en om hulle aangesigte na U te rig nie, en in die rigting van U genade te draai nie. Hierdie is hulle wat deur die Menigte in die hoogte geseën is, wat verheerlik is deur die bewoners van die ewigdurende Stede, en oorkant hulle deur diegene op wie se voorhoofde U mees verhewe pen geskrywe het: ,Hierdie! Die Mense van Bahá. Deur hulle is die glanse van die lig van leiding gewerp.' Aldus is dit op U bevel en deur U wil bepaal in die Tafel van U onherroeplike verordening.
Maak dus, o my God, hulle grootheid en die grootheid van diegene bekend wat, terwyl hulle op die aarde gelewe het of ná die dood, rondom hulle gedraai het. Voorsien hulle van dit wat U vir die regverdiges onder U skepsels beskik het. Sterk is U om alle dinge te doen. Daar is geen God behalwe U nie, die Alkragtigste, die Hulp in Gevaar, die Almagtige, die Mees Milddadige.
Bring nie ons vaste met hierdie vas tot 'n einde nie, o my Here, nòg die verbonde wat U gesluit het, met hierdie verbond. Neem U alles aan wat ons uit liefde vir U gedoen het en ter wille van U behae, en alles wat ons onverrig gelaat het as gevolg van ons onderworpenheid aan ons slegte en verdorwe begeertes. Stel ons dan in staat om standvastig aan U liefde en U welbehae vas te kleef, en bewaar ons teen die kwaad van diegene wat U ontken het en U mees luisterryke tekens verwerp het. U is, in der waarheid, die Here, van hierdie wêreld en van die komende. Geen God is daar behalwe U nie, die Verhewene, die Allerhoogste.
Verheerlik U, o Here my God, Hom Wat die Oorspronkelike Punt is, die Goddelike Verborgenheid, die Ongesiene Wese, die Daeraad van Goddelikheid, en die Openbaarwording van U heerskappy, deur Wie al die kennis van die verlede en al die kennis van die toekoms duidelik gemaak is, deur Wie die pêrels van U verborge wysheid blootgelê en die verborgenheid van U kosbare naam onthul is, Wat U aangestel het as die Aankondiger van die Een deur Wie se naam die letter W en die letter S saamgevoeg en verenig is, deur Wie U majesteit, U soewereiniteit en U mag bekend gemaak is, deur Wie U woorde laat daal is, en U wette met helderheid uiteengesit is, en U tekens versprei, en U Woord gevestig is, deur Wie die harte van U uitverkorenes ontbloot is, almal wat in die hemele was en almal wat op die aarde was versamel is, Wat U 'Ali-Muhammad in die koninkryk van U name genoem het, en die Gees van Geeste in die Tafels van U onherroeplike verordening, Wat U met U eie titel beklee het, aan Wie se naam alle ander name op U gebod en deur die krag van U mag gelaat terugkeer is, en in Wie U al U kenmerke en titels hulle eindelike volmaaktheid laat bereik het. Aan Hom behoort ook sodanige name as wat binne U vleklose tabernakels verborge gelê het, in U onsigbare wêreld en U geheiligde stede.
Verheerlik U, origens, diegene wat in Hom en in Sy tekens geglo het en na Hom gekeer het, onder dié wat U eenheid in Sy Daaropvolgende Openbaarwording erken het - 'n Openbaarwording waarvan Hy in Sy Tafels melding gemaak het, en in Sy Boeke, en in Sy Geskrifte, en in al die wonderbaarlike verse en woorde soos juwele wat op Hom neergedaal het. Dit is hierdie selfde Openbaarwording Wie se Verbond U Hom gebied het om te vestig voordat Hy Sy eie Verbond gevestig het. Daarin is Sy voortreflikheid opgehemel, en Sy waarheid bevestig, en Sy oppermag bekend gemaak, en Sy Saak tot volmaaktheid gebring. Geluksalig is die man wat na Hom toe gekeer het, en die dinge wat Hy gebied het vervul het, o U Wat die Here van die wêrelde en die Begeerte is van almal wat U geken het!
Geloof sy U, o my God, aangesien U ons gehelp het om Hom en by hulle Wat die Daerade van U Goddelikheid is, en die Openbaarwordinge van U Heerskappy en die Skatkamers van U Openbaring, en die Bewaarplekke van U besieling, om ons in staat te stel om Hom te dien en te gehoorsaam, en ons te magtig om die helpers van Sy Saak en die uiteenjaers van Sy teenstanders te word. Kragtig is U om alles te doen wat U behaag. Geen God is daar behalwe U nie, die Almagtige, die Alroemryke, die Een Wie se hulp deur alle mense gesoek word!
- Bahá'u'lláh